Oor Linda Kriel

Kan jy nog onthou hoe ons saam met Linda Kriel in die vroeë negentigs soggens op Body Beat geoefen het? Wanneer die ontbytprogram Goeie More Suid-Afrika begin het, het ons reggeskuif om te kyk, of ons het ons oefenklere aangetrek. En as Linda met haar atletiese lyf en ritmiese oefening op die kassie verskyn het, kon ons nie anders as om gemotiveerd te voel om ʼn gesonder leefstyl aan te durf nie!

Deesdae oefen ons weer saam met haar op kykNET se Kry Daai Lyf met Linda Kriel en volg haar oefenrubriek in Finesse tydskrif. Haar boek Kry Daai Lyf – Oefenprogramme wat werk en Eetplanne vir Gewigsverlies was einde 2014 die nommer een verkoper in CNA en haar oefen-DVD Kry Daai Lyf het Maart 2015 uitgekom. Begin 2016 was haar nuwe oefen-DVD, Verbrand Vet Vinnig, ook op die rakke.

Linda het nog altyd ʼn passie vir oefening en fiksheid gehad. Tydens haar B.Sc. studiejare aan die Universiteit van Pretoria het sy ‘n kursus in fiksheid- en oefenkunde by die Sportinstituut van UP gedoen en as student ekstra sakgeld verdien deur aërobiese klasse aan te bied. Daarna het sy oefen haar beroep gemaak.

“Haar jare lange betrokkenheid en passie vir fiksheid en gesondheid is aansteeklik.”
Linda was ook die aanbieder van vier baie suksesvolle oefenvideo’s, naamlik Bellies Boobs and Bums; Bodineticts; Fiks en Viets; en Bums Tums and Thighs.

Tydskrifte het haar ondervinding van oefening en raad oor eetgewoontes en gewigsverlies opgeraap en so het sy ʼn bekende gesig geword in Sarie (1994 tot 1999) asook in FINESSE (2000 tot huidiglik).

In hierdie tyd het daar ook twee boeke verskyn – 30 Dae tot ʼn Nuwe Jy en Kry Daai Lyf. Albei boeke het raad oor oefeninge en gesonde eetgewoontes bevat.

Na die geboorte van haar twee seuns, het Linda haar toegespits op haar fiksheidskliniek in die Kaap. Hier het sy gefokus op oefening vir veral vroue asook gewigsverlies.

Buiten haar oefeninge wat sy aanbied en haar skryfwerk, doen Linda ook Fiksheids- en Gewigsverlies retreats.

Haar jare lange betrokkenheid en passie vir fiksheid en gesondheid is aansteeklik.